TESTAMENTE:

Waarom is dit belangrik om ‘n testament te hê of jou testament gereeld te hersien

In die Suid-Afrikaanse reg, mag ‘n persoon kies hoe sy of haar boedel verdeel moet word wanneer hy of sy te sterwe kom.  Hierdie word gedoen deur ‘n geldige testament op te stel waarin die Testateur of Testatrise die volgende kan bepaal:

  1. Aan wie die bates van die Testateur en/of Testatrise moet vererf by sy of haar afsterwe.
  2. Wie as Eksekuteur van die Testateur en/of Testatrise se boedel aangestel moet word.
  3. Wie as voog(de) van die Testateur en/of Testatrise se kinder(s) genomineer word by gebrek aan ‘n natuurlike voog.
  4. Of hy of sy veras of begrawe wil word.
  5. In wie se sorg enige troeteldiere van die Testateur en/of Testatrise geplaas moet word by sy of haar afsterwe.
  6. Of enige van die bates van die Testateur en/of Testatrise in Trust gehou moet word, indien enige van die erfgename onder ‘n spesifieke ouderdom is, totdat die erfgename die spesifieke ouderdom bereik het of totdat ‘n sekere gebeurtenis plaasgevind het waarna die Trust kan ontbind en die bates dan aan die erfgename oorgedra kan word.

Enige persoon vanaf die ouderdom van 16 jaar en ouer mag ‘n testament te enige tyd opstel tensy die persoon ten tye van die opstel van die testament geestelik nie in staat is om die aard en effek van sy of haar handeling te begryp nie.

Indien ‘n persoon nie ‘n geldige testament ten tye van hulle afsterwe het nie, beteken dit nie dat al die bates van die oorledene na die Staat sal gaan nie, maar dat die persoon se boedel vererf word in terme van intestate erfreg.  Dit het tot die gevolg dat die oorledene se boedel nie verdeel word volgens sy of haar wense nie, maar volgens wetgewing.

Dit is belangrik om altyd jou testament opgedateer te hou aangesien bates verkoop en/of aangekoop word en soms sterf erfgename voor die Testateur en/of Testatrise af.  Dit is dus belangrik om ‘n testament op te dateer wanneer bates verkoop of aangekoop word, veral as die Testateur en/of Testatrise dit aan ‘n spesifieke erfgenaam wil bemaak of bemaak het.  Dit is ook belangrik om seker te maak dat daar voorsiening in die testament gemaak word vir vervangende erfgename sou een van die erfgename dalk afsterf voor die Testateur en/of Testatrise.

Kontak gerus vir Anél Malherbe by 079 412 3630 of per e-pos by anel@malherbelaw.co.za om u testament te hersien of ‘n testament vir u op te stel.

Vrywaring

Die inligting vervat in hierdie artikel word slegs vir algemene inligting en opvoedkundige doeleindes verskaf en moet nie as regsadvies oor enige onderwerp beskou word nie. Lesers moet nie optree of daarvan weerhou om op te tree op grond van enige inhoud wat in hierdie artikel ingesluit is sonder om regs- of ander professionele advies in te win nie.