MY FAMILIELID HET ALZHEIMERS

WAT IS MY VOLGENDE STAP?

Alzheimers en Demensie is van die mees gevreesde siektes wat wêreldwyd aan die toeneem is.  Dit het menigte gevolge, veral wanneer dit by die bates van die persoon kom.  Alzheimers en Demensie veroorsaak dat daardie persoon nie meer in staat is om na sy/haar eie sake om te sien nie. In so ‘n geval word ‘n  Administrateur aangestel om beheer te neem van die bates van ‘n persoon wat ‘n geestesongesteldheid of ernstige intellektuele gestremdheid het.

Die aansoek word gedoen in terme van Artikel 60 van die Wet of Geestesgesondheidsorg en word direk by die Meester van die Hooggeregshof ingedien.  Dit is dus ‘n goedkoper en vinniger roete as die Kurator Bonis roete.  Wanneer ‘n Kurator Bonis aangestel word, moet die Hooggeregshof genader word.  ‘n Kurator Bonis word aangestel waar ‘n persoon of geestesongesteld of fisies onbekwaam is, terwyl ‘n Administrateur slegs aangestel word in die geval waar ‘n persoon geestesongesteld is

Die aansoek vir ‘n Administrateur word deur die persoon se naasbestaande gebring.  Indien daardie persoon geen naasbestaande het nie, moet daar in die aansoek uiteengesit word watter stappe gevolg is om vas te stel waar die persoon se naasbestaandes hulle bevind, indien enige.

Nadat die aansoek by die Meester ingedien is, moet die Meester binne 30 dae na ontvangs van die aansoek, bevestig of ‘n ondersoek moet plaasvind om die meriete van die aansoek vas te stel.  Die ondersoek is slegs nodig in die volgende gevalle:

  1. Wanneer daar sekere bewerings in die aansoek bevestig moet word;
  2. Wanneer verdere inligting ter ondersteuning van die aansoek benodig word; of
  3. Wanneer die batewaarde van die persoon meer as R200 000.00 en die jaarlikse inkomste meer as R24 000.00 is.

Die ondersoek moet deur ‘n gekwalifiseerde persoon gedoen word, soos byvoorbeeld ‘n maatskaplike werker.

Die ondersoeker het 60 dae om die ondersoek te voltooi en ‘n verslag aan die Meester voor te lê waarna die Meester binne 14 dae moet toesien tot die volgende:

  1. Die aanstelling van die Administrateur;
  2. Weier om die Administrateur aan te stel;
  3. Die aangeleentheid na ‘n Regter in Kamers te verwys om te oorweeg en ‘n beslissing te maak.

By ontvangs van die Administrateur se aanstellingsertifikaat, neem die Administrateur beheer oor die bates van die persoon.  Die pligte van die Administrateur sluit in die invordering van alle inkomste wat aan die persoon betaalbaar is asook die betaling van alle maandelikse uitgawes van die persoon. 

Alle betalings wat gedoen word, asook alle pligte wat deur die Administrateur uitgeoefen word, is onder die toesig van en met die toestemming van die Meester.

Op ‘n jaarlikse basis rus daar ‘n verpligting op die Administrateur om ‘n rekening by die Meester te liasseer waarin die inkomste, uitgawes, bates en laste van die persoon vir daardie spesifieke periode uiteengesit word.

Die fooie van die Administrateur word volgens wetgewing voorgeskryf.

Vir enige verdere navrae, kontak gerus vir Anél Malherbe by 079 412 3630 of per e-pos by anel@malherbelaw.co.za.

Vrywaring

Die inligting vervat in hierdie artikel word slegs vir algemene inligting en opvoedkundige doeleindes verskaf en moet nie as regsadvies oor enige onderwerp beskou word nie. Lesers moet nie optree of daarvan weerhou om op te tree op grond van enige inhoud wat in hierdie artikel ingesluit is sonder om regs- of ander professionele advies in te win nie.